Skryf nou in vir die LAPA-Jeugromankompetisie 2019!
Prysgeld ter waarde van R50 000 is op die spel.
Sluitingsdatum: 31 Oktober 2019

LAPA hou weer ’n jeugromankompetisie

Hierdie gewilde kompetisie het al groot name getrek, soos Fanie Viljoen (Afkop), Marita van der Vyfer (Al wat ek weet), Jan Vermeulen (Asem), Nanette van Rooyen (Ek was hier) en Carina Diedericks-Hugo (Permanente ink). Nuwe stemme, soos Zelda Bezuidenhout (As mens geluk kon proe) is ook in hierdie kompetisie ontdek.

Die kompetisie se prysgeld beloop R50 000! Die eerste prys is R25 000, tweede is R15 000 en derde is R10 000. Selfs skrywers wat nie in die top drie eindig nie, staan steeds ’n kans om gepubliseer te word.

LAPA nooi graag alle skrywers en voornemende skrywers uit om deel te neem aan hierdie geleentheid om die stories, wat in jou kop wemel, die lig te laat sien.

Inskrywings sluit die 31ste Oktober 2019.

Kompetisiereëls

  • Die verhaal moet in Afrikaans geskryf wees, en gemik op lesers tussen 12 en 18 jaar oud. Die voorgeskrewe lengte is 30 000 tot 70 000 woorde.
  • Alle inskrywings moet die deelnemer se oorspronklike, ongepubliseerde werk wees.
  • Deelnemers gee aan LAPA die eerste opsie om enige van die inskrywings te publiseer. Geen ingeskrewe verhaal mag elders voorgelê word of wees vir moontlike publikasie nie. LAPA sal ná afloop van die kompetisie skriftelik met alle deelnemers in verbinding tree om te bevestig of hul verhale gepubliseer word al dan nie.
  • Die prysgeld is as volg:
    • Eerste prys: R25 000
    • Tweede prys: R15 000
    • Derde prys: R10 000
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Indien die gehalte van die inskrywings nie na die beoordelaars en LAPA Uitgewers se mening voldoende is nie, word die reg voorbehou om geen pryse toe te ken nie.
  • Die volgende inligting moet op die heel eerste bladsy van die voorlegging verskyn en enige inskrywing kan gediskwalifiseer word indien dit nie daarop verskyn nie:
    • Die skrywer se naam en van
    • Titel van die manuskrip
    • Lengte (aantal woorde) van manuskrip
    • E-posadres
    • Telefoonnommer
  • Indien daar onder skuilnaam geskryf word, moet die skrywer se volle naam en van ook op die heel eerste bladsy van die manuskrip aangebring word.
  • Die deelnemer se naam, of skuilnaam, moet op die eerste bladsy verskyn, maar dit mag nêrens elders op die manuskrip verskyn nie. Sou dit iewers anders verskyn, kan die manuskrip summier gediskwalifiseer word.
  • Inskrywings moet op genommerde A4-bladsye getik wees, slegs aan een kant van die bladsy, in dubbelspasiëring en in ’n maklik leesbare lettertipe (soos Arial of Times New Roman).
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Oktober 2019. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
  • Wenners sal in Januarie 2020 bekendgemaak word.
  • Werknemers van die ATKV en LAPA Uitgewers mag nie deelneem nie.
  • LAPA Uitgewers aanvaar geen aanspreeklikheid vir verlore manuskripte nie. Dit is altyd raadsaam om ’n afskrif van ’n manuskrip te hou.
  • Deur in te skryf onderneem jy dat jy al die reëls gelees en aanvaar het.
  • Inskrywings kan op drie maniere voorgelê word.
    • Per e-pos: stuur dit aan kompetisie@lapa.co.za met JEUGROMANKOMPETISIE en jou manuskrip se naam as onderwerp.
    • Per koerier: Stuur dit aan LAPA Uitgewers, Jeugromankompetisie, Bosmanstraat 380, Pretoria, 0002
    • Die posdiens is uiters onbetroubaar en baie stadig, maar voorleggings kan ook gestuur word aan: LAPA Uitgewers, Jeugromankompetisie, Posbus 123, Pretoria, 0001

Laai hier 'n afskrif van die kompetisie besonderhede af.