Emmanuel sal altyd haar kryptonite wees. Hy was eens haar beste vriend, maar
hulle het uitmekaargedryf ná ’n insident in Stellenbosch. Nou herken Natasja
nie die Emmanuel wat ’n bekende fotograaf in New York is nie. Sy herken nie
die man wat sy bed met die een model na die ander deel nie.
Wanneer Emmanuel by sy suster, Natasja se huismaat, in Suid-Afrika kom
kuier, gryp die noodlot en Covid-19 in: hy en Natasja moet vir ’n maand lank
onder dieselfde dak leef. Hulle kan nie langer die verlede en die aantrekkingskrag
tussen hulle ignoreer nie. Kan ’n verkeerde besluit in die verlede oorkom word?
Haar ekskêrel sal enigiets doen om haar terug te wen, maar Natasja het haar hart
agter slot en grendel geplaas. Sal Emmanuel haar hart kan oopsluit? Net die tyd
sal leer. En tydens die inperking is tyd al wat hulle het!