Sonder István Bethlen sal sy nooit volledig Annabella Davel kan wees nie. Net ’n leë dop, sonder koers, sonder betekenis. En sy hét hom verloor, dié geheimsinnige sigeunerviolis wat haar so volledig aangevul het toe sy tjello gespeel het, haar so volledig vrou laat voel het. Aan die konservatorium op Stellenbosch sal sy musiek studeer, maar haar hart is in Pretoria, in Orange Hall, in Burgerspark … dáár waar sy hom leer ken het. En toe sy praatjies hoor dat hy ’n adellike op vlug is, doodgeskiet is in Amsterdam, weet sy dat sy nooit weer tjello sal speel nie. Watter sin het musiek hoegenaamd? Watter betekenis het haar léwe?