’n Nuwe baba in die familie is altyd ’n vreugdevolle gebeurtenis en iets wat gevier moet word. Feesvierings kan egter ’n duur spulletjie word, veral as dit by gebak kom. Boonop is koekbak en -versiering iets waarteen baie mense opsien.
In Bak dit self wys Marlene dat die mooiste laagkoeke nie ’n onbegonne taak hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe om versiersel te kleur, ganache te maak, koeklae egalig deur te sny en verskeie lae op mekaar te stapel sonder dat dit omval. Kaalkoeke (naked cakes) en ombrékoeke word selfs vir die mees onervare bakster maklik gemaak.
Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, die immergewilde rooifluweel- en wortelkoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Verskeie versiersels en strope is ook
ingesluit. Met behulp van hierdie boek hoef jy jou nie weer te bekommer oor wat om vir watter geleentheid te bak nie, want daar is koekidees vir die bekendstelling van die baba se geslag, ooievaarstees, verjaardae en morskoeke (smash cakes) vir die belangrike klein mensie. Kom, trek aan jou voorskoot en bak dit self.