Thys Krige sou kon deurgaan vir eksentriek. Daar is ’n vrou, ja, maar dié is buite sy bereik. Sy missie in die polisie se speurafdeling het sy oorsprong in die moord op sy pa vyftien jaar gelede. Die reeksmoordenaar wie se gruweldade hy nou ondersoek, laat onder andere ’n wit roos op die slagoffer se bors. En die slagoffer se oë ... Die moordenaar doen ook nie veel moeite om hom te vermom vir die sekuriteitskameras nie. As dit ’n “hy” is, bygesê. Uiteindelik vind Krige die moordenaar. Maar dit is nie die einde van hierdie saak nie.