Is dit ’n vergeldingsdrang wat iemand laat moor, of kan dit die psigologiese nagevolge van traumatiese kinderjare wees?
Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, gedring deur die moeras van molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie. En niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie. Sy sal nooit weer in ’n sel sit nie, al kos dit wát.
Sy veg om ’n fasade van normaliteit te behou, help haar beskadigde kliënte en bied vir ’n groep ewe beskadigde elfjarige weeskinders Sondagskoolklasse aan terwyl sy haar blinde ma ondersteun en poog om die psigologiese nagevolge van die verkragting en moord te verwerk.
Is daar onheil by die kinderhuis? Hoe diep en wyd strek die boosheid? Is haar ma werklik in die greep van demensie, of is daar iets anders, iets erger aan die gang? Sal die groep vigilantes daarin slaag om haar moord toe te smeer, of sal die groot polisieman sy woord gestand doen en die moordenaar aankeer?