“Ek het vir prof ? storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan om hom in te lig dat hy haar familiegeskiedenis gaan skryf. Die ellendige saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop wat byna reeds uitgewerk is, begin.
Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe. Maar die hoop bly, die hoop bly ... En alles wat goed en sleg is, word soos die aarde uitgewerk onder dié wat volhard. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.
Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een. En uiteindelik keer dit terug na waar dit begin het. Só word die verlede oopgebreek om in die hede lig vir die liefde te maak.
Toe skryf die professor oor Katryn se ma, haar ouma en oumagrootjie, sonder dat hy of sy kon voorsien dat hulle self deel van dié saga van dooie drome, armoede en vernedering sou word. Selfs die liefde is onvoorspelbaar op ? delwery tussen die mielielande van die wispelturige Hoëveld. Durf ons droom van ’n beter lewe waarin minagting nie langer verduur hoef te word nie?
Hans du Plessis is ’n geliefde naam in die Afrikaanse letterkunde. Sy historiese romans staan stewig in die hede gewortel en hy is bekend vir die bedrieglike eenvoud in sy verhale wat dieper waarhede dra – hy ken die mense oor wie hy skryf en dié waarvoor hy skryf. Du Plessis is ook bekend as digter, dramaturg en taalkundige.