Bailey Kellerman het Suid-Afrika finaal verlaat toe Adam, haar jeugliefde, nie tot trou kon kom nie. In London hierna was daar ’n huwelik met ’n Fransman, maar ook hý het haar in die steek gelaat. Wanneer ’n tragedie in Johannesburg die lewens van Bailey se ouers eis, dring haar broer aan dat sy huis toe kom. Hy is woedend omdat sy nie hul ouers se begrafnis bygewoon het nie – sonder om te weet wat haar rede was. Maande ná die begrafnis is Bailey eindelik terug in Suid-Afrika op soek na antwoorde rakende haar ouers se dood – antwoorde moontlik opgesluit in haar pa se kluis waarvan die sleutel skoonveld is. Om sake te vererger, gooi Adam se herverskyning haar lewe nog meer omver. In Aankoms en vertrek blaas bobaasstorieverteller Pat Stamatélos met haar gebruiklike humor en ligte aanslag asem in ’n handvol karakters wie se lewens deur omstandighede op die spits gedryf word.