“Hy’s onnosel,” fluister hy voor sy lippe stadig oor haar sproete gly. “Dis pragtig. Jy’s pragtig.”
Die snak wat oor haar lippe kom, kan sy op geen manier keer nie. Met ’n kreun trek hy haar kop nader en soen haar. Die oomblik wat hulle lippe ontmoet, slaan begeerte intens en onmiddellik op haar maag.
’n Mens soen nie sommer wildvreemde mans nie, probeer ’n ou stemmetjie haar keer, maar vir die eerste keer in haar lewe gaan sy haar nie aan enige stem steur nie. Of dit die rooiwyn op sy tong of sy baard teen haar vel is, weet sy nie, maar sy sink met ’n kreun weg in die soen.
Niks anders behalwe die een sensasie na die ander wat oor haar spoel, maak op hierdie oomblik saak nie. Niemand het haar al ooit so gesoen nie. Niemand nie. So asof hy sy hele lewe net vir hierdie oomblik gewag het, asof hy nooit genoeg gaan kry nie en nooit gaan ophou nie.
Met ’n gromgeluid diep in sy keel, verdiep hy die soen. Lyflike plesier soos sy nog nooit vantevore ervaar het nie, vloei deur haar soos warm heuning. Haar hande beland op sy borskas. Warm, kliphard, gespierd. Onder haar vingers struikel sy hart op dieselfde oomblik wat sy tong deurglip en hare ontmoet.
Hitte, honger, passie. Moenie ophou nie, moenie ophou nie, is die enigste gedagte wat bly maal.
Trou met ’n man wat jou sproete tel, het haar ouma vir Ava Badenhorst geleer. Ava kry so ’n man in ’n restaurant in ’n Karoodorp, maar hy’s een van haar nuwe base en te vatterig na haar sin.
Edward Sutherland soek nie iets ernstigs nie, maar besef sy gevoelens vir Ava is nie net vlietend nie. Ava dra heelwat seer saam en wys nie sommer haar gevoelens nie.
Is daar ’n kans dat dinge tog tussen twee rooikoppe kan uitwerk?