Katalaya het silwerwit hare en dra funky klere, maar sy ís sestig jaar oud. En alleen. Soms wens sy Franco het eerder mooi ordentlik doodgegaan as om die pad te vat. Al wat vir haar oorbly is ’n miniatuurgrootte gaatjie in die meenthuiskompleks vir weduwees, weggooivroue en lelike vroue wat nie mans kon kry nie.
Haar kinders gee haar grys hare, wat sy juis nie wil hê nie. Verder worstel haar bejaarde ma met seniliteit en lap alles uit wat hulle ’n leeftyd lank geheim wou hou. Ook oor Ben wat in die buitekamer gebly het toe haar pa die stadsklerk van die dorp was. Dit was net Jan-Adam Vermeulen wat vermoed het Ben was soveel meer as net ’n chauffeur. Maar ná ’n tragedie wat die hele dorp geskud het, het hy uit hul lewe verdwyn.
Nou beweer haar ma ’n man met ’n Elvis-kuif was in haar besemkasgrootte kamertjie in Huis Herfsblaar. En later kom sy met ’n vreemde versoek – Katalaya moet na Ben gaan soek voordat dit te laat is. Maar sy gaan nie alleen nie. Katalaya se pelgrimstog lei haar na die laaste skakel wat die legkaart van haar lewe voltooi. Net om te ontdek dat die liefde en die begeertes van die lyf nie sommer tot rus kom nie. En dat die lewe so veranderlik soos kwiksilwer is.