Petrus dra swaar aan die verlies van sy vrou en sy sig. Nou moet hy besluit wat van sy
geliefde plaas, Pronkbos, gaan word. Sy enigste seun het van kleins af meer in
rekenaars as in boer belang gestel en ná sy egskeiding oorsee gaan werk. Sy seun se
eksvrou en sy enigste kleinkind het van die aardbol af verdwyn. Petrus besluit om sy
kleinseun op te spoor sodat hy Pronkbos aan iemand kan nalaat.
In die ry by die munisipale kantoor ontmoet Petrus vir Anina, ’n jong ma en
maatskaplike werker. Anina is as kind al deur haar oom seksueel misbruik en later
deur haar neef na ’n bordeel in die hawe geneem. Haar geliefde ouma was te siek om
te help en haar ouers wou haar nie glo nie. Toe sy gaan studeer, het sy gedink sy
ontsnap. Nou is sy getroud met ’n man wat haar mishandel en bekommerd oor haar
seuntjie.
Petrus vertrou nie jong vroue nie. Anina haat ou mans. Tog besluit hulle om mekaar
te help. Maar hoe oorkom jy jare se seer en wantroue? En hoe vind jy ’n aangenome
kind as die ma doelbewus haar spore doodgevee het? Kan twee generasies wat op
verskillende maniere en plekke mishandel is, mekaar ooit daarvan oortuig dat
vergifnis die enigste weg na vryheid uit hul wrokkigheid is?
Dis eers toe Petrus vir Anina en haar seuntjie na Pronkbos nooi en Petrus se seun
ook daar opdaag, dat Petrus en Anina die vrede vind waarna hulle al so lank soek.