Wat moet jy doen om jou naam in dieselfde asem as Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Jan Vermeulen en Nanette van Rooyen genoem te kry? Jy moet daai storie wat al só lank in jou kop broei, nou dadelik begin skryf - net dálk is jy die volgende wenner van LAPA se befaamde Jeugromankompetisie.
Indien jy wonder of jy genoeg tyd het om ‘n goeie storie iewers te gaan uitsnuffel en neer te pen, moenie bekommer nie. Jy het meer as ‘n jaar tyd om seker te maak jy kom in aanmerking vir een van die fantastiese pryse ter waarde van R60 000. Die algehele wenner ontvang R30 000 vir die wenboek en die twee naaswenners ontvang elk R15 000. Selfs skrywers wat nie in die topdrie eindig nie, staan steeds ’n kans om gepubliseer te word.
LAPA nooi graag alle skrywers en voornemende skrywers uit om al daai wonderlike stories wat die wêreld vol lê, op te raap, neer te skryf en met ons en ons lesers te deel.
Kompetisiereëls: LAPA-jeugromankompetisie 2025
Die verhaal moet in Afrikaans geskryf wees en gemik wees op lesers tussen 11 en 18 jaar oud. Om die proses vir jouself te vergemaklik kan jy gerus die volgende riglyne volg om die verhaal te struktureer:
Jeugromans vir jonger tieners (11-13 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 25 000 en 30 000 woorde lank. Voorbeelde is die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo, ʼn Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs en Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit deur Nerine Ahlers.
Tienerfiksie (13-15 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 30 000 en 45 000 woorde lank. Voorbeelde is Z-A-K: Die Blou Planeet deur Theresa van Baalen, As mens geluk kon proe deur Zelda Bezuidenhout en Dit het alles begin by ’n hond deur Annelie Ferreira.
Jongvolwassenefiksie (15-18 jaar). Manuskripte vir hierdie ouderdomsgroep is tussen 45 000 en 70 000 woorde lank. Voorbeelde is Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen, Oopmond deur Jan Vermeulen en Uitverkies deur Noreen Nolte.
Die beoordelingsproses vind as volg plaas:
Wanneer die kompetisie gesluit is, word ʼn kortlys van manuskripte saamgestel.
Beoordelaars sal ʼn wenmanuskrip en twee naaswenners aankondig. Die algehele wenner sal die prysgeld van R30 000 wen. Alle inskrywings moet die deelnemer se oorspronklike, ongepubliseerde werk wees.
Deelnemers gee aan LAPA die eerste opsie om enige van die inskrywings te publiseer. Geen ingeskrewe verhaal mag elders voorgelê word of wees vir moontlike publikasie nie. LAPA sal ná afloop van die kompetisie skriftelik met alle deelnemers in verbinding tree om te bevestig of hul verhale gepubliseer word al dan nie.
Die prysgeld is as volg:
Prys vir merkwaardige jeugverhaal: R30 000
Naaswenner: R15 000
Naaswenner: R15 000
Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Indien die gehalte van die inskrywings nie na die beoordelaars en LAPA Uitgewers se mening voldoende is nie, word die reg voorbehou om geen pryse toe te ken nie.
Die volgende inligting moet op die heel eerste bladsy van die voorlegging verskyn en enige inskrywing kan gediskwalifiseer word indien dit nie daarop verskyn nie:
Die skrywer se naam en van
Titel van die manuskrip
Lengte (aantal woorde) van manuskrip
E-posadres
Telefoonnommer
Indien daar onder ‘n skuilnaam geskryf word, moet die skrywer se volle naam en van ook op die heel eerste bladsy van die manuskrip aangebring word.
Die deelnemer se naam, of skuilnaam, moet op die eerste bladsy verskyn, maar dit mag nêrens elders op die manuskrip verskyn nie. Sou dit iewers anders verskyn, kan die manuskrip summier gediskwalifiseer word.
Inskrywings moet op genommerde A4-bladsye getik wees, slegs aan een kant van die bladsy, in dubbelspasiëring en in ’n maklik leesbare lettertipe (soos Arial of Times New Roman).
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 November 2025. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
Wenners sal op die laatste in April 2026 bekendgemaak word.
Werknemers van Penguin Random House Suid-Afrika en LAPA Uitgewers mag nie deelneem nie.
LAPA Uitgewers aanvaar geen aanspreeklikheid vir verlore manuskripte nie. Dit is altyd raadsaam om ’n afskrif van ’n manuskrip te hou.
Deur in te skryf onderneem jy dat jy al die reëls gelees en aanvaar het.
Inskrywings kan op die volgende manier voorgelê word: