Die bekwame verpleegsuster Coreen is tweede in bevel by Tweede Kans, ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes. Dokter Giorgio Romano, ’n aantreklike Italianer, is die direkteur en as sy toekomsplanne verwesenlik word, is Coreen binnekort sy vrou. Of hy haar liefhet of haar nodig het, is ’n ander vraag. Uitkoms, ’n soortgelyke sentrum op ’n nabygeleë plaas, se baas verskyn al hoe gereelder in Coreen se leefwêreld. Sou dit waar wees dat hierdie man van Uitkoms sy pasiënte uitbuit – hy met sy warm hart en sy onweerstaanbare stem? Hy, wat net so lief soos Coreen is vir kremetartbome? Eers toe die eeue oue kremetart in blom gaan, kry Coreen antwoorde op haar vrae.