Jozine Botha is ’n pastoor en berader by Prisma gemeente in Wonderboom,
Pretoria. Om na mense se stories te luister is haar passie en dit was juis die
stories van mishandelde vroue en kinders wat haar debuutroman
geïnspireer het. Sy het van jongs af liefdesverhale gelees en gedroom om
Teologie te studeer en ’n skrywer van Christelike boeke te word. Maar sy
het Ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria studeer en ’n
akademiese boek geskryf vir haar Meesters in Bedryfsingenieurswese. Op
dertig ervaar sy weer ’n sterk roeping na die bediening en begin Teologie
NWU studeer. Sy voltooi haar Meesters in Pastorale berading en begin toe
haar droom verwesenlik om ’n liefdesverhaal met ’n geestelike inslag te
skryf. Die jare tussen ons is Jozine se debuutroman.
<p>Elaine vlug weg van haar verloofde, Alex, sonder enige verduideliking. Haar geheim bly haar eie want sy glo as Alex ooit moet uitvind sal dit sy lewe ruïneer, en daarvoor het sy hom té lief. Sy het geen keuse as om Ben van Staden, die rykmanseun van Bloemfontein, se aanbod te aanvaar nie ... Die jare wat volg is verwonde jare gevul met vrees en verwyt. Elaine<br>verloor haar geloof in ’n liefdevolle God en dit is net haar ongesonde verhouding met wyn wat haar help om soms van al die seer in haar binneste te vergeet. Maar haar liefde vir Alex bly ’n brandende vuur wat nie geblus kan word nie. Skielik, ná soveel jaar, staan Alex weer voor haar en begin sy weer glo dat God dalk alles tog ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Maar, sal Alex haar ooit kan vergewe vir die onreg wat sy hom aangedoen het?</p>