Aletté-Johanni Winckler is ’n sakevrou, entrepreneur, skrywer en moeder
van vier. Sy is ook die eggenoot van Heinz Winckler – die bekende sanger en
kerkleier van LoveKey gemeente in die Wes-Kaap. Aletté-Johanni het in
joernalistiek gegradueer en het aanvanklik in korporatiewe sake gewerk. Sy
het later die vermaaklikheidswêreld betree as ’n beeldkonsultant en modestilis,
waarna sy bekendheid verwerf het as TV-aanbieder en motiveringspreker.
Aletté-Johanni is ook ’n gewilde skrywer wat al selfhelp boeke, oordenkings
vir vroue, ’n kinderboek reeks wat internasionale bekendheid verwerf het,
asook ’n huweliksboek saam met haar man, Heinz, geskryf het.
Lewensgids vir vroue, Aletté-Johanni se nuwe boek, is geskryf vanuit ’n vars,
nuwe perspektief en bied tydlose wysheid wat aanklank by vroue van alle
ouderdomme sal vind.
Die boodskappe in hierdie handige lewensgids is gegrond op wat die Woord sê
oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en uitdagings in vroue se daaglikse
lewens. Aletté-Johanni gesels met die leser soos ’n goeie, wyse vriendin. Die
inhoud bied die leser praktiese en geestelike raad en wenke wat vroue se
hedendaagse leefstyl, verhoudings en situasies in ag neem en spreek die verskillende
fases van vrouwees aan.
Van die onderwerpe wat bespreek word is ‘Hoe om die beste JY te wees’, ‘Hoe
om ’n goeie vriendin te wees’, ‘Hoe om ’n goeie jong student te wees’, ‘Hoe om
die beste vrou te wees’, ‘Hoe om die beste ma te wees vir babas/kleuters/laerskool
kinders/tieners’, ‘Hoe om sosiale media te benader’, ‘Hoe om finansies te
hanteer as individu/getroud/gesin’ en vele meer.