Patriarg Tjaart van der Walt se verlede haal sy kleindogters in ná sy dood toe
’n gas onverwags by sy kleindogter, Lenore van der Walt, se bruilof opdaag.
Die bewaringstatus van Bateleur Reservaat en Khulula Renosterskuiling word
daardeur bedreig. Die gas wil met ’n mynbaas saamspan om ’n steenkoolmyn
in die Laeveld te vestig.
Sikloon Dineo tref die reservaat langs die Mosambiek-grens en derduisende
klimaatvlugtelinge word blootgestel aan mensehandel en ontvoerings.
Die toenemende stel van slagysters vir bosslaghuisvleis lei ook tot ernstige
vergrype teen diere.
Die drie Van der Walt-niggies – Lenore, Tarien en Bella – word meegesleur
in die gety van ontheemding en dierevergrype. Ook op geestelike vlak is daar
’n vervreemding tussen die niggies en hul Skepper wanneer seer uit die verlede
hul inhaal en hul binne-vrede moet vind om weer tuis by God te voel.
Romanse en nuwe vriendskappe te midde van natuurrampe en aanvalle
deur insypelaars word ’n toevlug toe ’n bonkige huursoldaat en die Olifantbekoorder
van die Laeveld tot die niggies se lewens toetree.