Marilyn, die langvervagte Vywervrou-trilogie vervolg.
Vywervrou? Nee, ʼn kaivrou. Dis wat sy is. Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is ʼn kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van dié ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naïef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef ʼn mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie ...