“Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.”
Dit was die woorde van Drien Welman aan haar oudste seun Bennie wanneer hulle vir die soveelste keer by die laaste stukkie kos in die huis gekom het.
Bennie neem die leser terug na sy grootwordjare waar die Welman-gesin van nege op Simmer Deep gewoon het – van die middel sestigs tot middel tagtigs. Sy verhouding met sy pa is stormagtig want Bennie koester geen respek of liefde vir hom nie. Bernard Welman is aan die een kant ’n gewelddadige woestaard, alkoholis en ’n wildewragtig lorriedrywer en aan die ander kant ’n talentvolle musikant en sanger in eie reg. Die enigste ding wat die kloof tussen pa en seun soms oorbrug is hul liefde vir musiek.
Ten einde die donker wolk van uiterste armoede en ellendes te oorleef leer Bennie om homself te distansieer en dit stoïsyns te verduur. Hy put krag uit sy ma, ’n trotse vrou, wat deurgaans soos ’n rots onder die aanslae bly staan in ’n poging om die gesin bymekaar te hou.
’n Ballade vir Nkunzi beweeg van die een bisarre situasie na die volgende in ’n kroniek van smart, verraad en ’n goeie skeut galgehumor. Uiteindelik word dit ’n verhaal van triomf van die menslike gees oor verwoestende lewensomstandighede.