Felicia Snyman is ʼn romanse skrywer wat in Springs gebore is, waar sy haar skoolloopbaan suksesvol voltooi het. Sy het na skool haar LLB met lof by die Universiteit van Pretoria verwerf, waar sy ook haar eerste werkservaring as akademiese medewerker opgedoen het. Felicia het ʼn meestersgraad in Handelsreg, spesifiek Arbeidsreg en Sosiale beskerming aan die Universiteit van Pretoria met lof verwerf het. Sy werk as prokureur en mediator. Haar liefde vir lees het oorgegaan in die passie om ander te leer en het sy as regsdosent doseer. Sy het al by talle internasionale konferensies aanbiedings en referate gelewer en is ʼn geakkrediteerde mentor. Sy is ook ʼn geregistreerde ondernemingsreddingspraktisyn en beskik oor ʼn teachers kwalifikasie in modellering.
Felicia se groot droom is bewaarheid toe haar eerste Romanza, ʼn Duisend keer ja, in 2016 gepubliseer is. Sy spog as ʼn skrywer in die liefdesgenre met verskeie titels onder haar eie naam. Meeste van die inspirasie vir haar skryfwerk spruit uit haar werk en gesprekke met haar hartsmense. Sy sien die hartseer gedeeltes van ander raak waarin daar soveel potensiaal vir ʼn gelukkige einde opgesluit lê. Felicia is ook ʼn kinderboek-skrywer en geniet hierdie avonture. Sy is geseën met ʼn sprokiesliefde en het in 2019 met die liefde van haar lewe getrou. Sy, haar man, kinders en Boston Terriër, woon in Vanderbijlpark, vir ewig gelukkig saam.
By die Nampo-oesdag loop Christabella haar vas in Le Roux, ’n blou-oog marmerman, wat haar verkeerd opvryf. Le Roux is haar swaer se vriend en hulle sien mekaar nou noodgedwonge gereeld – dan spat die vonke.
Christabella is in Kroonstad om ongerymdhede by ’n tak van haar werk te ondersoek.
Henk, met sy gladde mond, gooi sommer van dag een af flikkers by haar, maar dis Le Roux wat haar hart laat bokspring.
Toe daar wel ’n slang in die gras by haar werk is, vind sy tot haar ontsteltenis uit sy is kniediep daarby betrokke en haar “bedrog” het alles te make met Le Roux en sy ouma se plaas!
Le Roux maak geen geheim daarvan dat hy dink sy is skuldig nie. Christabella slaag daarin om die ware skuldiges te ontmasker, maar die vraag is: Sal sy Le Roux ooit weer kan vertrou? En hy vir haar?