Ná die staal en skerp wit ligte in die teater, ná daardie verskriklike ding waartoe Lena ingestem het, moes instem, sluit sy haar af. As sy haar maar kon skoon skrop, skoon kon brand van wat sy gedoen het. Niemand kan haar liefhê nie, want sy verdien dit nie. Hier in haar ateljee met haar verf en haar verbeelde wêreld is dit veilig, hier hoef sy niks te bieg nie.
En sy is immers ’n suksesvolle skilder. Lena Riley se naam is wyd bekend, tot in die klein Vrystaatse dorpie Amberfield, waarheen sy genooi word vir ’n spesiale uitstalling van die geheimsinnige Carlos di Matthia se skilderye. Dis ook naby Amberfield, op die plaas Ou Bloekom, wat sy uiteindelik haar inspirasie kry vir die skildery van Die Vrou van Afrika.
Maar kan mens jou so suksesvol afsluit van jou verlede? Carlos di Matthia se werk, wat aan Lukas Hofmeyr behoort, het ’n veel groter invloed op Lukas en Lena se lewe as wat sy ooit sou kon vermoed.
En Lukas, hy met sy broeiende donker oë en sy stiltes, is nie die soort man vir wie jy dinge kan wegsteek nie. Hom uit haar lewe verdring, kan Lena ook nie, want hy hou haar hart in die holte van sy hand.
Publikasie Datum | 01 Okt. 2011 |
---|---|
Formaat | EPUB |
Skrywer | Dorothy Fourie |