Aniela het nie daarmee rekening gehou dat die boere rondom Burgershoop meen ’n dokter wat goed is vir ’n mens is ook goed vir ’n dier nie. Dit vind sy eers uit toe sy tydens ’n seldsame reënnag in die Kalahari na ’n plaas toe ontbied word vir ’n moeilike geboorte. Sy het ook nie vermoed daar woon sulke onweerstaanbare boere in hierdie wêreld so ver van alles af nie. Maar sy is nie die eerste een wat dit agtergekom het nie. Buitendien, watse soort boervrou sal sy nou uitmaak? En twee harde meulstene soos sy en hierdie boer sal nie maal nie. Of kan daar wonderwerke gebeur onder die wonderlike sterrehemel van ’n Kalahari-nag?