Beatrix Smith verhuis saam met haar man na Oudtshoorn, na sy aftrede. Sy glo ʼn mens moet drome hê. As ʼn boekwurm was dit hare om self te kon skryf soos haar gunstelingskrywers. Om die ATKV-skryfskool te kon bywoon, beskou sy as ʼn ingryping en seëning van God, want dit het haar in staat gestel om werk te maak van wat sy as ʼn onbereikbare droom beskou het. Sy is dankbaar vir elke geleentheid om agter haar rekenaar in te skuif, in die koppe van haar karakters te klim en hul stories te vertel.
Femme fatale of boere-aspoester?
Alinda is vasbeslote om haar sterfbedbelofte aan haar ma na te kom voor sy trou. Maar watter man sal sewe jaar vir haar wag, soos Jakob vir Ragel?
Dieselfde dag waarop sy haar ontroue aanstaande die deur wys, steel ’n Gautenger haar parkeerplek. Alinda besluit net daar om mans die rug te keer.
Toe dit blyk die Gautenger is haar buurman se kleinseun Harry, spat die vonke behoorlik tussen hulle. Sal Harry Alinda kan oortuig hy is ’n man soos Jakob?