Sinkhuisresepte is Willie Strauss se tweede kookboek en volg op Daar is ‘n engel in my
koskas (Human & Rousseau). Hierdie boek is propvol heerlike, pretensielose resepte.
In sy sinkhuis, een van die oorspronklike huise in Cullinan, maak Willie vinnige en
maklike kos wat hy vir gaste as ’n visuele en kreatiewe fees voorsit. Die leser kan uitsien
na meer as 100 smaakvolle resepte met bestanddele wat jy in jou koskas het. Willie se
stories gaan jou laat glimlag en sommige sal jou laat terugverlang na jou ma en ouma se
kombuis met bekende geure van anys, vleispastei, appelkoos en bros blaardeeg.
Interessante nuutjies soos vye-en-biltong-paella is ook op die spyskaart en
Sinkhuisresepte sluit selfs af met peuselhappies vir jou dierekinders.
Nostalgiese stories en resepte waarmee jy grootgeword het is so deel van Willie dat
jy nie kan help om met ’n glimlag na hom te luister of sy stories te lees en sy resepte te
gebruik nie. Hierdie boek nooi jou om saam met Willie in sy sinkhuis te kuier.