Vars, snaaks, speels – liefdesverhale wat jou breër laat glimlag!
Hierdie omnibus is ’n samestelling van vier RomanzaLiefde-novelles: Soos hout en konfetti, Net in stories, Gelukkige nommer 13, en Kersie bo-op.
Soos hout en konfetti – Jacolet van den Berg
Max is banger vir vroue en trou as die duiwel vir ’n slypsteen. Maar sy hart werk oortyd as hy Sandra Sinclair sien. Sy maak hom ongemaklik, want hy weet: Sy mag dalk net sy ondergang beteken.
Net in stories – Rika Cloete
Altyd die strooimeisie, nooit die bruid nie. Dít is Maddie Schoeman. Totdat sy een keer opkyk in ’n strooijonker, Wynand Raath, se mooi oë. Skielik is liefde nie net vir storieboeke bedoel nie, maar ook vir haar.
Gelukkige nommer 13 – Corné La Camera
Hoeveel mislukte afsprake neem dit voor jy meneer perfek ontmoet? Ná twaalf wou Renate ’n ferm streep trek, want die opsies van ’n spiertier tot ’n IT-nerd is maar yl. Maar dalk is dertien haar gelukkige nommer?
Kersie bo-op – Bernette Bergenthuin
Marcelle se lieflingtante skryf haar in om deel te neem aan die werklikheidsprogram Baas-van-die-plaas. Eers is sy woedend, maar nadat sy Basjan Rademan ontmoet het, moet sy erken dat haar tante dalk van beter weet.