Salma Swanepoel hou daarvan om tussen haar mense te wees. Sy geniet eenvoud en orde, al probeer laasgenoemde haar gedurig ontwyk, en sy het ’n lawwe streep wat nie altyd bedwing wil word nie. Salma glo mens het daagliks o.a. geloof, hoop, genade en liefde nodig om te oorleef en probeer om verhale te skryf wat elkeen ’n stukkie ewigheidswaarde sowel as humor bevat.
Vakansieromanse – Mari Grobler
’n Spookvrou, ’n eksentrieke antieke handelaar, ’n man op ’n wit perd en ’n swart Labrador wat ’n pet dra. Dit is níé wat Lee-Anne verwag het om op Boesmansriviermond te vind nie. Sy het ook nie verwag om verlief te raak op Johann, die man wat haar van gewisse verdrinking gered het nie!
BONUSKORTVERHAAL!
Meng dit goed – Salma Swanepoel
Marié, ‘n weduwee, kan maar net nie koek bak nie. Alleen in haar meenthuisie haal sy die een flater ná die ander uit die oond. Totdat die meisiekind van langsaan se wewenaar-oupa begin raad gee.